Welkom by Beréa Christen Gemeente (Gereformeerd)

“En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” Hand 17 : 11

Ons is Onvolmaakte mense in diens van die Drie Enige God – Vader, Seun en Heilige Gees.
Die Woord is sentraal in ons gemeente en ons poog om in Liefde die Kosbare Woord uit te leef na mekaar en na buite.

“SOLA GRATIA” = Genade Alleen

“SOLA FIDE” = Geloof Alleen

“SOLUS CHRISTUS” = Christus Alleen

“SOLA SCRIPTURA” = Die Skrif Alleen

“SOLI DEO GLORIA” = Tot eer van God Alleen

Wat leer en verkondig ons by Berea Christen Gemeente?

Die Kerk is gefundeer op die Heilige Skrif, die onfeilbare en foutlose Woord van God.

Die leer wat die Kerk, op grond van Gods Woord bely is saamgevat in die Drie Formuliere van Enigheid soos vasgestel op die sinode van Dordrecht in 1618-1619.

 (Nl. Die Heidelbergse Kategisme, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Vyf Dordtse Leerreëls)

Opsommend kan ons sê:

Die Kerk staan op God se Woord.

Die Kerk glo aan o.a die Maagdelike geboorte van Jesus, Sy Plaasvervangende dood aan die Kruis as Redder vir sondaars, Sy liggaamlike Opstanding, dat die mens as sondaar weergebore moet word, dat God die mens liefhet maar ook eendag regverdiglik sal oordeel waarby die mens die ewigheid in ‘n letterlike Hemel of Hel sal deurbring, ens…

Ons Visie en Missie:

Om Siele te bereik vir Jesus se Koninkryk

As Gemeente toegerus te word vir dienswerk

Aktiewe voorbidders te wees

Persoonlik sorg dra vir mekaar

Boodskappe: Word direk uitgesaai via ‘n Audio Link asook op YouTube.

Dit word later verwerk en geplaas op ons webtuiste asook op Facebook en Whatsapp.

Indien u meer inligting wil bekom kan u gerus skakel na die volgende Telefoon nommers:

078 803 3377  /  078 894 6221

Die Plaaslike Leraar:

Ds Gerhard Beukes

Oggend Eredienste vind plaas Sondae om 10:00 

Wat glo ons?

 Ons groet u hier vanuit die pastorie met die pragtige woorde van die psalmdigter in 

Psalm 24: 7 – 10 “Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!  Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd.  Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!  Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare—Hy is die Erekoning! Sela.”

Dit is presies waaroor ons Gemeente en bediening gaan en dit is die verheerliking van die ere Koning wat Sy lewe aan die kruis gegee het vir ons sondes. Hy tog is die Een wat van nou af en tot in alle Ewigheid geloof en geprys moet word. Wat ‘n voorreg om in Sy diens te mag staan.

Ons is dankbaar vir elkeen wat die webtuiste moontlik gemaak het. Van hierdie platform vertrou ons die Here dat mense wêreldwyd met die kosbare evangelie bereik sal word en siele nie net gered nie maar, ook geheilig sal word.

Graag wil ons net in kort ons Geloofsbeginsels deurgee:

1. Ons glo in God drie Enig: Vader, Seun en Heilige Gees wat van Ewigheid af was, is en sal wees.

2. Ons glo dat God drie Enig alles geskape het, sienlik en onsienlik en alles in stand hou deur die krag van Sy Woord.

3. Ons glo dat Christus van Ewigheid af was en na hierdie aarde gekom het as Verlosser. Dat die Heilige Gees die maagd Maria oorskadu het en vanuit haar is die Verlosser Jesus Christus gebore. Hy was volkome God en volkome mens tydens sy aardse bediening. Hy het ‘n sondelose lewe gelei, ‘n eenmalige en volmaakte dood gesterf sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe mag hê. Hy het liggaamlik opgestaan uit die dood en opgevaar na die hemel waar Hy nou vir ons intree by die Vader. Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.

4. Ons glo dat die Heilige Gees vanuit die Vader en Seun op Pinksterdag uitgestort is met die primêre doel om in Sy kinders te woon en te werk en die wêreld te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.

5. Ons glo dat die Bybel die Enigste bron van waarheid is waardeur ons God kan leer ken. Die Woord is deur God geïnspireer en dien tot ons onderrigting.

6. Ons glo dat die plaaslike Gemeente ‘n instelling is van God en net bestaansreg het as Sy besig bly met die verheerliking van Jesus Christus deur die prediking van die Woord. Elke wedergeborene moet deel wees van ‘n plaaslike Gemeente.

7. Ons glo volgens die Skrif dat die Duiwel ‘n werklike wese is. Volmaak deur God geskape het hy na sy rebellie God se vyand geword. God sal aan die einde van tye die Duiwel in die Ewige poel van vuur werp as straf vir Sy rebellie.

8. Ons glo aan ‘n letterlike hemel waar God se kinders saam met die Here vir ewig sal wees.

9. Ons glo aan ‘n letterlike hel waar die sondaars vir ewig God se toorn sal beleef.

Ons is ‘n Gereformeerde kerk en Gemeente en staan op die vyf Solas soos gebore vanuit die Reformasie.

Verder onderskryf ons ook die drie formuliere van enigheid:

Nederlandse Geloofsbelydenis.

Dordtse Leerreëls.

Heidelbergse Kategismus.

WhatsApp Image 2022-08-31 at 10.58.29 AM